Hoe werk dit?

By Bemeester Wiskunde is die klem op interaktiewe leer. Wat is interaktiewe leer? As jy net luister/kyk hoe ek al die probleme oplos, dan dink jy jy verstaan, maar as jy dit self doen en regkry dan weet jy jy verstaan. Nou moet jy net oefen/leer. Daarna is jy reg vir moeiliker probleme of nuwe uitdagings wat bou op wat jy nou reeds weet.

Daar is vier (4) fases in probleemoplossing: Ondersoek, verstaan, leer en uitdagings. Soms moet mens eers die reëls ken/leer om te verstaan, maar verstaan is nie iets wat net uit die lug val nie! Dis ‘n proses! Ek gaan verduidelik hoe ons te werk gaan deur van ‘n voorbeeld van hoe jy leer om fiets te ry, gebruik te maak.

Wiskunde is soos om fiets te ry. Jy kan nie leer om fiets te ry as jy nie self probeer nie! Eers staan jy en toekyk en wanneer jy genoeg moed bymekaar skraap dan probeer jy. Dit is die ondersoek fase. Jy mag dalk val en seerkry, maar jy probeer weer.

Jy kry die gevoel van hoe dit werk en jy snap wat om te doen. Jy verstaan instinkief min of meer hoe dit werk. Nou ry jy met meer selfvertroue en weet van die trappe, wiele en die handvatsels en hoe dit saam werk.

Nou kom die volgende fase. Jy moet aanhou ry sodat jy oefen en leer hoe dit werk. Naderhand kom dit sommer net outomaties, sonder om te dink. Jy kan lank ophou fiets ry, maar as jy aanvanklik goed geoefen het, kom als weer terug na jou toe en jy ry weer soos voorheen fiets.

Omdat jy genoeg geoefen het, kan jy nou goed fiets ry, daarom is jy nou reg vir nuwe uitdagings, soos om met een hand vas te hou, of oor ‘n hobbel te ry, ens. Jy gaan dalk weer val, maar jy staan gou weer op en probeer weer!

Wat moet jy saambring na die virtuele klaskamer?

Jy het pen en papier nodig en vir ‘n aanlynles het jy minstens ‘n slimfoon nodig. Dis handig om ‘n tablet of ‘n rekenaar te hê, maar solank jy jou slimfoon kan opstel sodat ek kan sien hoe jy ‘n probleem aanpak, kan ek jou help. Jy kan een of ander stellasie bou sodat jou foon hoog genoeg bokant jou skryfpapier staties “hang” of lê. Jou kamera moet ‘n video kan neem van wat jy doen, terwyl jy werk. Sorg dat jou foon se battery vol gelaai is voor ‘n les. As jul Wifi tuis het sal dit ook help om data te spaar.

Waar is die virtuele klaskamer?

Daar is twee (2) opsies. Ons kan slegs met WhatsApp werk, of in ZOOM gesels. Jy kan ZOOM eenmalig op jou slimfoon aflaai via die “Play Store”. Dis gratis. Doen dit asb. voordat jy met jou klasse begin. Speel maar bietjie met die ZOOM APP (applikasie) sodat jy gemaklik is om daarin te werk. Jy hoef nie veel te doen nie, behalwe om in die virtuele klas te kom. 

Hoe begin jy?

Nadat jy ‘n afspraak op die kalender gemaak het, gaan ek vir jou ‘n skakel (link) stuur (per WhatsApp) om in die Zoom-klaskamer in te kom vir die tyd wat jy bespreek het. Jy kliek dan net op die skakel.

Dit is belangrik dat ek vooraf weet wat jou probleem is. Dit is ook belangrik dat jy die klasse getrou bywoon. Ek kan nie in een les vir jou alles leer nie, of bepaal waar jou boustene vir wiskunde swak is nie. Indien die aanlynklasse nie werk nie, kan ons ‘n kontakklas bespreek. 

Hoe groot is die klas?

Daar kan ‘n maksimum van 4 leerlinge/studente in een sessie geboek word. Indien jy nie in die algemeen met wiskunde sukkel nie, maar net met ‘n spesifieke probleem/konsep/afdeling van wiskunde sukkel, is jy welkom om ‘n individuele sessie te bespreek.

Ek moet vooraf weet wat jou probleem is, sodat ons die tyd saam optimaal benut. Dit stel my in staat om ekstra studiemateriaal vir jou gereed te kry.

Onthou! A bicycle ride around the world begins with a single pedal stroke. Scott Stoll

Bicycle quotes- https://theargonauts.com/bicycle-quotes/#number-1-bicycle-quote

Hoop om jou gou te sien! Kom ons trap die fietspedale deur wiskunde …